WOLKSKOOL

WOLKSKOOL


Laerskool Rustenburg het gedurende 2020 ‘n besondere band met SOS (Solidariteit se SkoleOndersteuningSentrum) en die Wolkskool opgebou. Hul ondersteuning tydens die grendeltyd was vir ons onderwysers, ouers en leerders van onskatbare waarde.


Larries het dus die besluit geneem om aan te sluit by die Wolkskool in 2021. Ons sien daarna uit om die waarde van hierdie vennootskap in die klaskamer te ontsluit.


Die Wolkskool kom veral tot sy reg as onderwysers die Wolkskoolaanbiedings met hul lesse in die klaskamer integreer.


In die eerste plek bied die Wolkskool aan onderwysers funksionaliteit om algemene klaskameradministrasie makliker te maak. Onderwysers kan self registreer, klasse skep, leerders koppel, dokumente versprei, opdragte met keerdatums stuur, afgehandelde opdragte ontvang en met leerders kommunikeer. Verdere voorbeelde van inhoud, wat met leerders gekommunikeer kan word, is video's, lesmateriaal, videokonferensieskakels, skakels na vraelyste, ens.


Die Wolkskoolinhoud kan ook help dat leerders die werk beter verstaan. Onderwysers wat reeds deel is van die Wolkskool sê die volgende: “Wat my as onderwyser aanbetref, bied die Wolkskoolhulpbronne ‘n ander perspektief, ʼn ander invalshoek, wat sal aanklank vind by leerders se verskillende leerstyle.” Saam met huidige onderrigmetodes sal ons leerders definitief daarby baat. Daarby vind onderwysers wat van Wolkskoolvideo’s gebruik maak dat hulle nou meer tyd tot hul beskikking het om verrykend, of remediërend, te werk te kan gaan. Leerders wat afwesig is kan ook d.m.v. Wolkskool verlore inhoud inhaal en bemeester.

U as ouer kan dus gerus wees dat die Wolkskool nie die onderwyser in die klaskamer gaan vervang nie – dit gaan aanvullend aangewend word om die leerervaring van die leerders nog meer waardevol te maak.


Vir die ouers en leerders wat in die middae die geleentheid wil aangryp is daar vele opsies vir verryking. Daar is reeds meer as 4000 lesse in Afrikaans in video-formaat deur professionele onderwysers geskep. Leerders kan die lesse in hul eie tyd, vanaf enige plek en teen hul eie pas, aanvullend tot skoolonderrig, deurkyk. Leerders kry die geleentheid om hul eie kennis te toets deur toepaslike assesserings te doen. Die regte antwoorde word dadelik beskikbaar gestel en hulle kan dan onmiddellik daaroor nadink of die assessering herhaal totdat hulle die kennis bemeester. Aanvullend tot die lesse kan werkkaarte ook afgelaai word. Werkboeke wat by sekere vakke kwartaalliks bygewerk word, is ook gratis beskikbaar. Dit bevat afdelings wat met die Wolkskoolinhoud gekoördineer is, bladsyverwysings na handboeke wat algemeen deur skole gebruik word, sowel as opdragte wat na video’s en assesserings verwys. Daar is ook verskeie oefeninge en memorandums beskikbaar.


Leerders wat nie toegang het tot die Wolkskool in die middae nie sal geensins in die klaskamer benadeel word nie. Geen leerder sal uitmis op die klaskamervoordele wat die Wolkskool bied nie.


Ons sien uit daarna om die 2021 akademiese jaar saam met ons leerders en ouers aan te pak! Verdere inligting sal volg.


Volg gerus die skakel: https://wolkskool.co.za  om meer te wete te kom oor die voordele wat Wolkskool vir u kind inhou.

Share by: