GEEN HUISWERK

GEEN HUISWERK


VOORWOORD: MNR JF J VAN VUUREN HOOF LAERSKOOL RUSTENBURG


“Uitnemendheid” ‘n Wonderlike woord, ‘n wonderlike visie, maar hoe bereik mens dit?

In ‘n veranderende wêreld is dit ononderhandelbaar dat verandering en “Bybly” op die nuutste ontwikkelingstrategieë of wyse gebaseer is. Larries het een reuse tree met die “Geen huiswerk” beleid gegee. Vergewis uself gerus van ons artikel daaroor elders in hierdie skrywe.


Lees is aktueel en lê my baie na aan die hart. Soveel leerprobleme word aangespreek indien ons lees vir genot, sowel as begrip, onder die knie gekry het. Daar word ontsaglik moeite gedoen deur die hele personeel, en veral mev. Renè Schoombee, gedoen om lees aan te moedig en pret te maak. Soos vanuit die artikel afgelei kan word is dit so dat swak lesers onderpresteer. “Jy moet kan lees om vrae te kan beantwoord”.


WAAROM GEEN HUISWERK BY LAERSKOOL RUSTENBURG? 


Agtergrond


Die Primêre Skool Sun Valley in Kaapstad het omtrent mense aan die gons gehad met hul besluit om huiswerk af te skaf in 2015. Dié besluit het gevolg op jare se navorsing. "Die tradisionele skoolstelsel het baie goed gewerk toe jy mense wou voorberei om net in fabrieke te gaan werk, maar vandag is ons besig om mense voor te berei om as entrepreneurs en denkers, innoverend en kreatief te wees."


By Sun Valley word leermetodes geskoei op navorsing oor hoe die brein werk. Die brein leer nie as dit spanning ervaar nie. Sodra 'n persoon spanning ervaar, gebruik hy nie die kognitiewe deel van sy brein nie, maar sy "oorlewingsinstink". Keller sê die huidige skoolstelsel is baie akademies-gedrewe, wat hoë vlakke van spanning veroorsaak en kinders verhoed om reg te leer.

Hy meen ook dat huiswerk een van die faktore is wat die meeste spanning veroorsaak, nie net by kinders nie, maar ook by ouers en onderwysers. "Na 'n voldag van leer het die kind nog 'n groot hoeveelheid werk wat hy by die huis moet voltooi. Die ouers, wat ook hul pond vleis by die werk moes betaal, kom doodmoeg tuis en moet dan die kinders ook help met huiswerk." Intensiewe toetse het gewys dat kinders akademies beter presteer as daar minder druk is. Keller meen daar is 'n persepsie dat as 'n mens nie vir 'n kind huiswerk gee nie, hy nie verantwoordelikheid gaan leer nie. "Daar is geen navorsing wat dit bewys nie," sê hy.

 

Larries Geen Huiswerk Beleid


Bogenoemde besluit van Keller en die sukses wat reeds al ‘n geruime tyd in Finland behaal is ten opsigte van ‘n geen huiswerkbeleid het Laerskool Rustenburg oortuig dat dit die roete is wat hulle moet volg. 

Kosbare tyd het verlore gegaan in die klaskamer wanneer onderwysers eers kinders moes aanspreek oor huiswerk wat nie gedoen is nie, dié tyd word nou spandeer om die leerders op ‘n kreatiewe en innoverende manier te onderrig. Smiddae kan die leerders dit wat hulle geleer het weer nagaan, leer vir speltoetse, somme oefen ens, sonder die druk van onnodige take en werksopdragte wat geen sinvolle bydrae tot die leerervaring het nie. Terloopse aanleer en leef van verantwoordelikheid vind plaas.


Lees vervang huiswerk

Hoewel Larries nie meer huiswerk kry nie, moet hulle daagliks 20 minute lees. "Ons kry terugvoer van ouers wat sê hulle kinders het nooit 'n boek in hulle lewe gelees nie, maar dieselfde kinders kan nou nie genoeg kry van lees nie. As ons hierdie nasie wil verander, moet ons ons kinders aan die lees kry." 


Werk dit by ander skole?

L.F. de Beer, skoolhoof van Potchefstroom skryf:

My ervaring van 43 jaar in die onderwys, waarvan 23 jaar as hoof van ’n toplaerskool, is as volg: Selfs 30 minute huiswerk vir ’n gr. 1-, gr. 2- en gr. 3-leerling is te veel. Hulle behoort geen huiswerk te kry nie. 

Elke graadonderwyseres behoort aan die einde van die dag tyd te maak om na die leerlinge se huiswerk te kyk, wat onder haar toesig gedoen word. Dit is die enigste manier hoe ’n mens kan sien wie die werk verstaan en of die lesse geslaagd is. Deur huiswerk net huis toe te stuur word duisende kinders se lewens verwoes deur ongeduldige ouers wat net nie tyd het vir alles nie. Die meeste gesinne se ouers werk albei. Ons het by my skool aan die einde van die dag tyd bygevoeg vir gr. 1 tot gr. 4 om huiswerk onder toesig te doen. Die standaard was hoog en probleme minder. Die ouers het geglimlag, want daar was tyd by die huis vir die kind en nie net vir huiswerk nie. Dit is elke onderwyser se plig om die kinders te onderrig en nie die ouers se plig ná werk nie. Huiswerk is beslis een van die onregverdigste praktyke wat bestaan. Red ons kinders en gee hulle genoeg tyd om te speel. Dit is slegs moontlik indien elke onderwyser gemotiveerd elke dag sy werk met toewyding doen en nie die werk vir die ouers laat nie.


Lees gerus die volledige artikel.


Share by: