LEIERSKAPPROGRAM

LEIERSKAPPROGRAM


LARRIES SE LEIERSKAPSPROGRAM VIR GR. 7 LEIERS


Larries het ‘n bewese rekord wanneer dit kom by leierskapopleiding. Dekades lank vind die debat oor leierskap op skool plaas. Die skoolgemeenskap van Larries hoef nie twee keer daaroor te dink nie, inteendeel, leierskap op laerskoolvlak is ononderhandelbaar hier op die Larrie-werf. Leierskapspotensiaal word raakgesien èn ontwikkel.


Leierskap is nie ‘n titel, ‘n balkie, koord of posisie nie. Dis ‘n keuse. By Larries het ons ‘n leierskapopleidingsprogram ten doel om waardegedrewe leiers te ontwikkel. Leiers is, soos ons hoof meneer Koos Jansen van Vuuren altyd sê, dienaars. ‘n Leierskapsposisie stel ‘n leier instaat om geleenthede raak te sien sodat hulle waarlik verskilmakers kan wees. Larries wil juis geleenthede skep sodat ons Gr. 7 jeugleiers eienaarskap en verantwoordelikheid sal neem vir die skoolgemeenskap wat hulle dien. Op die ouderdom van 13 kan kinders leer, leierskap is ‘n persoonlike keuse – dis jou keuse. Karakter, invloed en leierskap kan inderdaad met vrug gekweek word op die jeugdige ouderdom van 13. 


By Larries val die klem op ontwikkeling. Ons leierskapsidentifiseringsmodel het dit ten doel om ongeveer 55 tot 60 leerders te identifiseer om in leiersposisies te funksioneer. Die leerderraad of Raakvatters soos ons hulle noem word blootgestel aan ‘n program wat spesifiek vir die behoeftes van Larries saamgestel word. Larries se leieridentifiseringsverkiesingsmodel en leiersontwikkelingsprogram is eiesoortig en ontwerp deur ‘n taakspan uit eie bodem.


Ons hoofdoel is waardegedrewe leierskap. Die waardes waarna ons streef is gewortel in die Woord van God. Dit is dieselfde waardes wat universeel nodig is om ons wêreld ‘n beter plek te maak. Ons Larries leer van jongs af om waardegedrewe op te tree eerder as reël-gedrewe. Die leierontwikkelingsprogram maak voorsiening vir 2 leierskampe en kwartaallikse leieropleidingsessies. Larries maak gebruik van leiers uit ons eie stal om terug te keer en in te ploeg in die opleiding van ons jeugleiers. Leiers moet spreekwoordelik gevoed word met ‘kragkos’. Dis juis op die ouderdom van 13 wanneer kinders ontvanklik genoeg is vir geestelike weerbaarmaking en leierskapsontwikkeling. 


Larries het twee hoofleiers per kwartaal wat verkies word deur die leerderraad en stemgeregtigde personeel. Die gewigte van die stemme is 50/50. Dit bevestig die geloof wat ons in ons jeugleiers stel om hul eie leiers te verkies. Larries se leerderraad het nie onderhoofleiers nie. Enige leerderraadslid kan ontwikkel om die posisie van hoofleier vir die kwartaal in te neem. Ander Gr. 7 leerders wat nie tot die leerderraad verkies is aan die einde van Gr. 6 nie, kan deur die loop van die jaar inpresteer tot die leerderraad. Hoofleiers word blootgestel aan ‘n verskeidenheid van ambassadeursgeleenthede en geleenthede om hul vermoë as sprekers te ontwikkel. Leerderraadslede het ‘n verskeidenheid van pligte. Die spekrum van hul take leer hulle om op hul voete te dink en praktiese probleemoplossingsmetodes te ontwikkel.   


Larries spandeer tyd daaraan om leiers op te lei om verantwoordelike keuses te maak. Die leierverkiesing in Gr. 6 word met groot erns aangepak en alle Gr. 6 leerders word begelei om kwalitatief hul kandidate te meet teenoor ‘n kriterialys. ‘n Lid van die Beheerliggaam woon verkiesings by met die doel om die skakel te wees tussen ouers en die skool. Die ouers en leerders weet dat ‘n vry en regverdige verkiesing ononderhandelbaar is. Leierskap is nie ‘n gewildheidskompetisie nie, dis vir ons ‘n saak van groot erns wat met nog groter verantwoordelikheid en regverdigheid bejeën word. 


Larries kan voorwaar trots wees op die fenominale jong leiers wat vandag verskilmakers en brugbouers is in eie reg. #trotseLarrie


Benewens die Gr 7 Leierskapprogram is daar ook die volgende rade waar leerders in Graad 6 se leierskapvaardighede ontwikkel word:

 

  • Medialeiers
  • Skolierpatrollie
  • Saalkomitee
  • Afrolkomitee
  • Kennisgewingbordkomitee
  • Gasvryheidskomitee

 

 

Share by: