STOEI

STOEI BY LARRIES


STOEI EN DISSIPLINE BY LARRIES


Laerskool Rustenburg het onlangs stoei geïnkorporeer by hul Menslike Beweging Kurrikulum. Die voordele wat stoei inhou vir kinders is ongelooflik. As deel van Larries se dissiplinestelsel word leerders wat handgemeen raak met mekaar verwys na die stoeilokaal waar hulle onder volwasse toesig die saak in ‘n beheerde stoeigeveg kan uitsorteer. Hierdie proses word deeglik gemonitor en het reeds tot vele suksesverhale tov konflikhantering tussen kinders gelei.


Marli Naidoo van Solidariteit skryf in ‘n artikel die volgende: Wanneer ʼn groep kinders mekaar gryp en wild op die gras begin rondrol en stoei, wil ons soms net keer. Ons wil net seker maak dat niemand seerkry nie. Speel-stoei lei egter slegs in een persent van alle gevalle tot ʼn regte geveg. Volgens dr. Anthony T. deBenedet en Lawrence J. Cohen, skrywers van die boek, The Art of Roughhousing: Good Old-Fashioned Horseplay and Why Every Kid Needs It, is dit grootliks voordelig om kinders te laat begaan.


Speel-stoei maak kinders slim. Dit stimuleer die brein. Hierdie tipe speel stel ʼn chemiese stof genaamd brein-afgeleide neurotrofe faktor vry, wat soos bemestingstof vir die brein is. Stoei stimuleer ook neurongroei in die korteks en hippokampus-areas van die brein, wat vir geheue, leervermoë, taal, en logika verantwoordelik is. Sodoende verbeter speel-stoei dus prestasie op skool.


Speel-stoei en rowwe spel bou emosionele intelligensie. Kinders leer om ander kinders se emosies te lees, en om hulle eie emosies te beheer. Hulle leer ook hoe om selfbeheer te herwin, wat hulle dan ook meer selfvertroue gee.

Fisiese spel bou vriendskappe en ander verhoudings. Speel-stoei kan ʼn verklaring van vriendskap en liefde wees. Kinders wat gereeld stoei, kan makliker ʼn onderskeiding tref tussen onskuldige spel en aggressie, en dit help hulle dus om sosiale vaardighede te ontwikkel en probleme makliker op te los. Hulle leer ook hoe om hulle beurt af te wag, hoe om leiding te neem, en hoe om te onderhandel. Klink dit nie soos wonderlike voorbereiding vir professionele sukses en toegewyde verhoudings nie?


Wanneer ons met ons kinders speel-stoei, demonstreer ons aan hulle hoe iemand wat groter en sterker is, homself terughou. Ons leer hulle selfbeheersing, regverdigheid, en empatie. Ons laat hulle wen, wat hulle selfvertroue gee, en aan hulle demonstreer dat oorwinning nie die belangrikste is nie. Hulle sien hoe baie vermag kan word deur samewerking, en hoe om kompeterende energie konstruktief te kanaliseer sodat dit nie oorneem nie.


Natuurlik maak stoei kinders fiks. Dit behels komplekse motoriese groei, konsentrasie, koördinasie, liggaamsbeheer, kardiovaskulêre fiksheid en soepelheid.


Moontlik die grootste voordeel wat speel-stoei inhou, is dat dit kinders gelukkig maak. Dit is groot pret, en as geskille op die gesonde manier uitgesorteer kan word, sal dit net voordelig wees vir die leerders!


Ons vertrou dat ons ouers sal inkoop op die konsep.

Share by: