GESKIEDENIS VAN LARRIES

NIKS SONDER ARBEID – GESKIEDENIS VAN LAERSKOOL RUSTENBURG


LARRIES VANJAAR 100 JAAR OUD - KYK SAAM MET ONS TERUG NA 'N RYK GESKIEDENIS:

Dit was die jaar 1873. President Burgers wat maar ‘n kort tyd regeer het, maar hom met baie dinge bemoei het in daardie tyd, het die eerste botaniese tuin in Transvaal geproklameer en wel in Rustenburg. Gedurende dieselfde jaar is ‘n stuk grond, effens meer as vier morge groot, suid-oos van die destydse dorp, wat maar uit ‘n paar huise bestaan het, afgesonder as ‘n botaniese tuin, omdat daar sulke mooi wildevyebome, maroelas, wag-‘n-bietjie-, blinkblaar- en ander bome gestaan het.


Aan die begin het dit die naam gedra van Mariapark, vernoem na die predikantsvrou wat besondere dienste aan die gemeenskap gelewer het. Later het die naam in onmin verval en is die stuk grond “Het Kruidkundige Tuin” genoem. Hierdie stuk grond is later, toe die opmetings van dorpsgebiede gedoen is, deur die owerhede opsy gesit vir opvoedkundige doeleindes. Dit is hier waar Laerskool Rustenburg later gebou is en op 31 Augustus 1921 amptelik deur die Administrateur van Transvaal geopen is. Niemand weet of die opening met ‘n funksie gepaard gegaan het nie en dit lyk ook nie so nie. Sedert die gebou in 1921 betrek is, was daar slegs sewe skoolhoofde naamlik:

 

Mnr Bertie Herholdt (1921-1944)

Mnr J Le Grange (1944-1964)

Mnr BJ Erasmus (1964-1974)

Mnr Kirsten (1974-1987)

Mnr B Mostert (1988-1998

Mnr JF J van Vuuren (1999-2003)

Mnr J Geldenhuys (2004-2006)

Mnr JF J van Vuuren (2006-2021)

 

In die dae van Mnr Herholdt was vervoer skooltoe slegs met perde, fietse, of donkie- en perdekarre. In die skadu van die ou wildevyboom reg voor die skool oorkant die straat, wat vandag nog daar staan, reg voor die saal en links langs die skool, het die “goevermentsdonkies” deur die dag gerus en geduldig gestaan en wag, terwyl die kinders geleer het, om hulle smiddae weer huistoe te neem.


In 1944, net voor die Tweede Wêreldoorlog beëindig is tree Mnr Heroldt uit en Mnr Le Grange volg hom op as skoolhoof. Soos die skool se behoeftes gegroei het, is nog grond bygevoeg van die staatsgrond wat vroeër vir onderwys geoormerk is, en in 1940, 1955, 1958 en 1967 is daar grond tot die skoolterrein bygevoeg. ‘n Personeelkamer, kunskamer en biblioteek is later aangebou, en op 7 Desember word die hoeksteen van die saal deur Mnr La Grange onthul. Die saal het die ou sinksaal wat deur die ouers self opgerig is, vervang.


Aan die einde van 1963 tree Mnr Le Grange uit en ‘n nuwe hoof moes aangestel word. In 1964 is Mnr Erasmus aangestel tot 1974 en in hierdie tyd is nog ‘n stuk grond aan die skool geskenk waarop die huidige pawiljoen, rugbyveld en atletiekbaan gebou is, nadat ‘n bedrag van R30 000 vir die doel ingesamel is. ‘n Pragtige swembad wat reeds in 1941 deur die inspekteurs in vooruitsig gestel is, word toe ook gebou, terwyl tennisbane ook tot die leerlinge se beskikking gestel is.


Drie ander laerskole het van Laerskool Rustenburg afgestig, naamlik Noordskool, Laerskool David Brink en Fields Primary. Laerskool Rustenburg word dan terreg as die moederskool van Rustenburg beskou. Oor die jare heen het die skool verskeie mense opgelewer wat groot hoogtes bereik het. Van die kinders wat later uitgestyg het, was daar belangrike leiers op verskeie terreine van die samelewing en vandag is die skool nog steeds ‘n sentrum van uitnemendheid waar kinders onderrig ontvang ter voorbereiding vir hul toekoms.

Share by: