INLIGTINGSENTRUM EN #TOPLESERPROJEK

INLIGTINGSENTRUM EN #TOPLESERPROJEK


Laerskool Rustenburg beskik oor 'n goed toegeruste Biblioteek en Ouditorium, wat bekend staan as die Inligtingsentrum.


Leerders kan gedurende pouses die biblioteek besoek en boeke uitneem. Die koste van 'n biblioteekkaartjie is R20 per leerder per jaar. Leerders mag 2 boeke uitneem vir 'n tydperk van twee weke.


Leerders besoek ook gedurende klastyd die biblioteek as deel van die kurrikulum, tydens die sessies word hul navorsingsvaardighede aangeleer. Die Gr R leerders leer ook skaak speel tydens die sessies.


René Schoombee, 'n gekwalifiseerde Bibliotekaris is aan stuur van die Inligtingsentrum en haar doel is om van elke LARRIE 'n Topleser te maak!

Larries is aangewys as NB Uitgewers se #trotsenbskoleambassadeur en beskik oor 'n ruim voorraad kinderboeke geskenk deur NB Uitgewers.  Ouers kan ook NB Uitgewers se boeke bestel by die plaaslike agent Pieter Louw, sy kontaknommer is 082 450 5881.

#TopLesersis ‘n inisiatief wat daargestel is toe Laerskool Rustenburg huiswerk afgeskaf het. Dit is leesinisiatiewe wat elke termyn aangebied word. Die leesprojekte se doel is om leerders te motiveer om smiddae boeke te lees. Ons verwag van elke Larrie leerders om i.p.v huiswerk te doen, 20 min. te lees. Die projekte wat reeds aangebied is, sluit die volgende in:


• Lees Bingo: Sluit aktiwiteite in soos lees langs die swembad, langs die rugbyveld, vir      jou juffrou, jou troeteldier ens.

• Skryf van gediggies oor lees wat saam met foto van leerder gepubliseer word

• Boekmerk boekresensie

• Leespaspoorte

• Leesskattejag

• Kurrikulumgebasseerde leeslys

• Skootboeke


Die kinders wat kwartaalliks hul leesprojekte voltooi word beloon met klein bederfies. Ons gee die volgende belongings:

• Beloning 1: Topleserbalkie wat gedra kan word

• Beloning 2: Topleserarmband

• Beloning 3: Topleserboekmerk

• Beloning 4: Deurhanger: (Moet nie steur nie)

• Beloning 5: TopLeser liniaal

• Beloning 6: TopLeser papiermagneet

• Beloning 7: “Mad hatters Teepartytjie saam met hoof vir almal wat skootboeke ingedien het


Watter grade het aan die leesinisiatief deelgeneem? Graad 1 tot 7 leerders neem aktief hieraan deel.


René Schoombee, die skool se Bibliotekaris koordineer die projekte, stel al die inligtingstukke saam vir die ouers, deel dit uit aan die leerders wat dit dan weer aan haar terugbesorg via hul voogonderwysers. Die projek word gedryf deur blootstelling op sosiale media.


Gr. R leerders word betrek deur storie-ure ens. tydens klastyd en besoeke aan die skoolbiblioteek, maar hoef nie formeel deel te neem aan die projek nie.


Ons kry terugvoer van ouers wat sê hulle kinders het nooit 'n boek in hulle lewe gelees nie, maar dieselfde kinders kan nou nie genoeg kry van lees nie. As ons hierdie nasie wil verander, moet ons ons kinders aan die lees kry. Wat my die meeste verras het is die aantal seuns wat aktief deelneem aan ons projekte, die mite dat seuns nie lees nie is beslis hok geslaan deur die aktiewe deelname van ons seuns by Larries. Die opgewondenheid waarmee die leerders hul projekte kom “aflewer” by Tannie René spreek boekdele oor die leerders se gevoel oor die leesinisiatief.


BELANGRIKHEID VAN LEES


Agtergrond

In hierdie moderne eeu waarin ons onsself bevind, is belesenheid 'n norm waaraan die mens gemeet word. Hoe meer gevorderd 'n samelewing raak, hoe belangriker raak leesvaardighede, juis omdat gevorderde tegnologie verhoogde vlakke van opleiding vereis waarin doeltreffende lees 'n kardinale rol speel. Ontwikkeling op verskeie gebiede is dus direk afhanklik van die mens se vermoë om doeltreffend te lees.


Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat ’n persoon hom/haar baie moeilik by die samelewing kan aanpas sonder die vermoë om goed te lees, juis omdat lees een van die doeltreffendste middels is waardeur die mens hom/haarself nie alleen in die verlede kan inleef nie, maar ook die hede kan verstaan. Lees stel ons in staat om tyd te manipuleer, en om onsself bloot te stel aan gebeure en idees.


Wat is lees?

Lees kan dus beskou word as die primêre metode waardeur inligting versamel word en kennis opgedoen word.

Vir 'n volwassene om 'n goeie leser te wees, wat vinnig én met begrip kan lees, moet leesonderrig reeds in die onderwysgrondslagfase, en dan meer spesifiek, in die aanvangsleesstadium, op die doeltreffendste wyse aangebied word. Reeds in die eerste skooljaar word daar van leerders verwag om te leer om vloeiend en met begrip te lees. Namate leerders na hoër grade beweeg, word die eise wat aan hul leesvermoë gestel word, steeds groter.


Lees op skool

Ongelukkig is dit ‘n realiteit dat baie leerders onder swak leesvaardighede gebukkend gaan. Volgens die Essi-Leestoets lees 23% van alle Graad 1 tot Graad 7 leerders swak tot baie swak; 'n verdere 17,5% se leesvermoë is ondergemiddeld.

Gebrekkige leesvaardighede, veral in die grondslagfase, kan ‘n kind se skoolvordering beduidend beïnvloed. Leesagterstande by leerders kan aanleiding gee tot probleme soos:

• wangedrag, 

• skolastiese onderprestasie, 

• onderbenutting van leerpotensiaal 

• en die onvermoë om 'n betekenisvolle betrekking te bekom.


Lees is die grondslag vir sukses, nie net op skool nie, maar ook vir latere sukses in jou beroep. Daarom is dit belangrik om ’n liefde vir lees van kleins af by jou kind te kweek … en is dit een van die grootste geskenke wat jy aan jou kind kan gee. 

Om te lees, is vir party van ons deel van ons DNS en ons kan goed onthou hoe dikwels ons raas gekry het omdat ons na slaaptyd met die flits onder die komberse gelees het, of omdat ons kamer soos ’n “varkhok” gelyk het. Maar … watter wonderwêreld was dit nie! Omring met boeke was jy nooit alleen of verveeld nie. Jy was die prinses, die speurder, of die wêreldberoemde filmster.


Dit is hoekom dit seker een van die grootste geskenke is wat jy aan jou kind kan gee … ’n liefde vir lees. Lees van kleins af vir jou kind en staan elke dag ’n paar minute hieraan af en gou is dit iets waarna jou kind gaan uitsien – en boonop versterk dit die band tussen julle. Deur gereeld vir jou kind te lees, ontwikkel jy sy verbeelding en kreatiwiteit, brei sy woordeskat en taalvaardigheid uit en help sommer dat hy goed vaar op skool. “Voorlees vorder na saamlees en dit vorder na selflees.” Voorlees bly egter noodsaaklik vir die leer-lees-proses en jy kan gerus daarmee aanhou, selfs wanneer hy reeds self kan lees.

Lees vir pret behoort ’n gewoonte in elke huishouding te word en hoef nie noodwendig ’n duur boek te wees nie. Selfs deur te blaai deur ‘n tydskrif en prentjies te “lees” en daaroor te praat, sal jou kind se liefde vir lees aanwakker. Oorweeg dit ook om so vroeg moontlik by die biblioteek aan te sluit. 

Dit word ’n pretuitstappie waarna jou kind kan uitsien en is een van die goedkoopste maniere om boeke te bekom. Stel ook sommer self ’n voorbeeld en maak seker jou kind sien jou gereeld lees. Kinders moet besef dat lees deel van die daaglikse bestaan is, soos tandeborsel en harekam. 


En die regte ouderdom om vir jou kind te begin lees? 

Sommer van babadae af. Maak dus seker jou kind het sy eie boekrak en leeshoekie waar hy rustig kan sit en lees of deur boeke blaai, met of sonder jou.


Hoekom is lees so belangrik?

Kinders wat sukkel om te lees, sukkel om te leer. Lees is een van die eerste vaardighede wat aangeleer word en ook die grondslag vir sukses, nie net op skool nie, maar ook later wanneer ’n mens ’n beroep beoefen. Dink maar waar jy oral in jou daaglikse lewe lees moet inspan. Of jy nou ’n speletjie wil speel, ’n koek wil bak of wil besluit watter fliek om te gaan kyk, lees moet jy kan lees. En hoe gaan jy weet wat in die res van die wêreld gebeur as jy nie kan lees nie? Prof. WW Charters het reeds in 1941 die belangrikheid van lees beklemtoon toe hy gesê het: “Lees is die mens se magtigste vaardigheid. Daarsonder word sy wêreld deur sy bure bepaal …” 


Dus, wanneer jou kind weer na ’n maatjie se partytjie genooi word en jy wonder wat om die keer toe te draai, koop ’n boek! En as jy kopkrap oor wat om Kersfees onder die boom te sit, belê in boeke. Wat is dan nou lekkerder as om vir elke persoon ’n spesiale boek wat by hom of haar pas, uit te soek.

Share by: