GR 4 - 7

GRAAD 4 - 7


Liewe Voornemende Larrie Ouer


Ek glo u het uself deeglik vergewis van die uitsonderlike kwaliteite wat Larries se Gr.R – 3 Grondslagfase vir u kind kan bied, sodat u ’n ingeligte keuse kan maak.


Wanneer ’n leerder deur die bekwame hande van die grondslagfase personeel beweeg het, sal hulle beslis gereed wees vir die GROOT sprong na die Intermediêre en Seniorfase.


Leerlinge word reeds in Gr.3 voorberei d.m.v. formele toetse sodat hulle die eise van Gr.4, waar hulle nou formele eksamen moet skryf , sal kan bemeester.


Om die aanpassing na Gr.4 so maklik as moontlik vir u kind te maak, hou ons die klassies so klein as moontlik en het ons daarom 6 voogklasse in Gr.4. Die Gr.4 personeel is opgelei om u kind met begrip, liefde en empatie te begelei sodat hulle suksevol in die Intermediêre(Gr.4 – 6) en Seniorfase(Gr.7) sal kan aanpas. Alle vraestelle word in Gr.4 vir die leerlinge voorgelees.


Vanaf Gr.4 wissel die leerlinge elke periode na vakspesifieke personeel om kwaliteit van onderrig te verseker. Ons kan met nederigheid spog dat ons oor uiters bekwame en goed opgeleide vakpersoneel beskik.


Daar word kwartaalliks ’n Top 15 aangewys wat dan bestaan uit die 15 toppresteerders per graad. Die Gr.6 en 7 toppresteerders word dan as deel van die IK-klub met ‘n spesiale uitstappie beloon.

Addisioneel tot die akademie, kan leerlinge ook deelneem aan Algemene Kennis vasvra kompetisies, Bybelvasvra, Wetenskap Ekspo’s asook Wiskunde en Wetenskap Olimpiades. Alle leerders gaan een keer per week na die Rekenaarsentrum vir inskerping van rekenaargeletterdheid.  Die rekenaarsentrum gaan ook binnekort gebruik van die Stimulus Maksima leesprogram en sodoende ons leerders se leesvermoë opskerp.  Verder het leerlinge twee keer per week Gewyde Sang, omdat geestelike weerbaarheid vir ons essensieël deel is van ’n kind se ontwikkeling.


Soos in die Juniorfase, volg ons ook ’n GEEN HUISWERKBELEID in die Intermediêre en Seniorfase.


By Larries plaas ons die klem op die volgende aspekte wat u as ouer tuis mee moet help:

 

  • Die aanleer van waardes
  • Die beoefening van 20 minute se daaglikse hardoplees
  • Die ontwikkeling van ’n gesonde liggaam en gees deur spel, deelname aan buitemuurse aktiwiteite en gesonde eetgewoontes.

 

Laerskool Rustenburg se Karaktervormingsdepartement word ook bedryf as ’n ondersteuningstruktuur by die skool wat help met emosionele en gedragsprobleme by leerlinge.


Ons wil graag u kind in totaliteit ontwikkel en gebalanseerde jongmense na die hoërskool stuur.


Ons sien daarna uit om u tydens ons ope dae te ontvang en sal baie graag in vennootskap met u en u kind wil tree.


Besoek ons gerus of skakel vir enige verdere navrae.

Share by: